Dr. Melodie de Jager
Haar benadering tot die ontwikkeling van kinders mag dalk deur sommige mense as onkonvensioneel en
anders beskou word, maar dit is juis hierdie andersheid en prettige benadering wat haar ‘n leier by uitstek
op die terrein van kinderontwikkeling maak.
Melodie het haar loopbaan as kleuterskoolonderwyseres begin en terselfdertyd ook ‘n Meestersgraad in
voorbereidende wiskunde- en wetenskap-skoolgereedheidsprogramme behaal. Sy was besorg dat talle kinders, ten spyte van uitstekende opvoeding en die jongste leerplanne, nie op die korrekte ouderdom
skoolgereed is nie en dit het haar genoop om verdere navorsing te doen oor toegepaste breinnavorsing en neurowetenskap.
In haar soeke na sleutel- en hoofbestanddele om kinders se verborge potensiaal te ontwikkel, het sy die
volgende persone se werk nagevors:
• Jean Piaget en die toepaslikheid van verskillende ontwikkelingsfases
• David Feuerstein en die rol wat die opvoeder speel om leerervarings te skep
• Maria Montessori en haar fokus op die intellektuele ontwikkeling van die voorskoolse kind
• Roger Sperry en Robert Ornstein en hulle gespletebreinteorie
• Richard Bandler en John Grinder, wat NLP ontwikkel het – die meganika en praktiese werking van die
denkproses
• Paul MacLean en sy Drie-in-een-breinteorie
• Ned Hermann, wat die funksies van die brein meetbaar gemaak het
• Paul Dennison en die rol wat beweging in die leerproses speel
• Carla Hannaford en die rol van laterale profiel-evaluasie
• Jean Ayres en die belangrikheid van sensoriese integrasie
• Thomas Tomatis en die rol wat die oor, as draaispil en middelpunt, in die leerproses speel
• Dina Stachel, wat die MATAL- voorskoolse programme vir wetenskap en wiskunde ontwikkel het
• Howard Gardner en die verskillende vorms van intelligensie
• Sally Goddard en die ontluiking van neurologiese rypheid deur aangebore reflekse
• Rita Edwards, wat tussen naby en ver sintuie onderskei het
• Liz Senior, wat fisiologie en anatomie aan Jan en alleman bekendgestel het.
Melodie sê egter dat die meeste van haar navorsing eintlik tuis plaasgevind het danksy haar drie kinders, Ruan, Waldo en Cozette, en die honderde babatjies en kinders wat sy in haar privaat praktyk behandel het en wie se ontwikkeling, gedrag en reaksies vir haar van onskatbare waarde was.
Jare se ondervinding en ook haar navorsing het gelei tot die publikasie van talle boeke, asook ‘n verdere doktorale studie oor die toepasbaarheid en
belangrikheid van beweging tydens die leerproses.
Sy publiseer BabaGim as ‘n selfhelpgids vir mammas en pappas wat die beste van hul kinders se eerste jare wil maak en daardeur ontwikkelingsagter stande wil voorkom. Arbeidsterapeute, vroedvroue en kinderartse het ook BabaGim-tegnieke geïmplementeer en dit het op groot suksesverhale uitgeloop – veral in die vorm van vroeë opsporing van
ontwikkelingsbehoeftes en sukses met Vigswesies.
Sy is ‘n welbekende en populêre gasspreker wat gereeld oor die radio gehoor en op televisie gesien kan word en word dikwels in die pers aangehaal. Haar naam verskyn op Exclusive Books se “Guru List” en sy is deur die Amerikaanse Biografiese Instituut aangewys as een van die mees uitsonderlike vroue van die 21ste eeu.
|